Dementia & Alzheimer News

Home » Media » In the News

Catharina Maria (Ina) Rens: 6 April 1923 - 28 Januarie 2011

Ek het 'n hele paar jaar na mev Rens aan die Universiteit van Stellenbosch studeer maar steeds was een van prof Jan Div se geliefkoosde staaltjies:

As jong maatskaplike werker het ek in die Paarl met verwondering met hierdie legendariese vrou kennis gemaak - sy was steeds beeldskoon maar haar skoonheid is totaal oorskadu deur haar intellek, elegansie, deernis, leierskap en menslikheid.

Dit sal nie moeilik wees om 'n paar bundels te vul met mev Rens se formidabele loopbaan wat as lektrise in maatskaplike werk begin en ses dekades later geëindig het as baanbreker wat haar merk gelaat het op elke terrein relevant in die Suid-Afrikaanse breër welsynskonteks. Sou dit die fokuspunt wees, was ek genoop om ten minste die volgende temas te ontgin en selfs dan sou dit nog nie aan hierdie faset van haar lewe reg laat geskied het nie:

1. Sy was een van die eerste persone in SA wat 'n MA-graad in maatskaplike werk behaal het en het die ewige student gebly met 'n passie vir die professie, die opleiding van maatskaplike werkers en 'n regverdige bedeling vir hierdie beroepsgroep.

2. Internasionale professionele blootstelling op 'n jeugdige ouderdom, toe sy as deel van 'n prestige afvaardiging onder leiding van Prof Erika Theron 'n jaar in die VSA en Europa deurgebring het, het bepaald bygedra tot haar wêreldbeskouing, leergierigheid en vermoë om internasionale tendense op 'n relevante wyse met die Suid-Afrikaanse realiteite te versoen.

3. Haar bydrae in haar geliefde verenging, die ACVV of die AV soos sy dit graag genoem het, sou ten minste in 'n paar onderafdelings hanteer moes word:

3.1 Die vier jaar as organiserende sekretaresse van die ACVV het haar in aanraking gebring met elke faset van die vereniging, haar op vele reise deur die ou Kaapkolonie geneem en die kennis van die ACVV se werkgebied en -diensmotief wat sy onder moeilike omstandighede sonder rekenaars, ja selfs sonder 'n outydse tikmasjien, fakse, epos en vliegtuie deel van haarself gemaak het, het die grondslag gevorm vir haar eie bydrae as vrywilliger van formaat.

3.2 Haar rol en bydrae in, tot en dmv die ACVV Paarl-Vallei sou genoeg wees om enige persoon te laat terug sit in die wete dat genoeg terug geploeg is in die gemeenskap en dat 'n groot verskil gemaak is. Dit het Ina Rens net aangespoor om haar onvermoeide ywer verder in belang van die Paarl aan te wend en Huis Verngenoegd is bepaald 'n lewende monument sprekend van 'n leeftyd se toewyding en diens.

3.3 Ek sou kon uitbrei oor die leerskool om saam met ons geliefde mev Rens by een van die vele bouprojekte van die ACVV betrokke te wees. Sy kon telkens verstom met haar kennis, fyn aanvoeling, visie en die gemak waarmee sy met die professionele span kon saamwerk, die respek wat sy ingeboesem het, ja, ek weet van menige bekende argitek en bourekenaar wat 'n sug van verligting gegee het na elke suksesvolle bouterrein-vergadering met haar. Sy het dan ook nie geskroom om 'n plan te wysig, 'n muur te laat afkap of ingewikkelde syfers deeglik te ontleed en 'n ingeligte gesprek daaroor te voer nie.

4. Alhoewel daar geen twyfel is dat Ina Rens en die ACVV vir baie jare sinoniem met mekaar was nie, het sy nooit haar breër visie versaak nie soos blyk uit haar baanbrekersrol in die ontwikkeling van welsynsdienste en infrastruktuur om dienste te lewer aan die gedeelte van die Paarl gemeenskap wat agv die destydse landswette nie deur die ACVV bedien kon word nie. Die stigting van die Kindersorgvereniging in die Paarl-Oos asook die oprigting van Rusthof, 'n versorgingsfasiliteit vir ouer persone in dieselfde gemeenskap (Paarl-Oos) is sprekende voorbeelde hiervan.

5. Haar rol in dienste aan gestremdes is dalk minder bekend en nadenke oor haar rol in die bestuur wat die destydse Vereniging vir Serebrale Gestremdheid gestig het asook haar rol in die totstandkoming van die Paarl Skool te Brackenfell waar sy ook jare in die bestuur gedien het, sou beslis 'n paar volumes beslaan.

6. Op provinsiale terrein het sy verskeie termyne in die Streekwelsynsraad van die Wes-Kaap gedien, onder andere as aanstelling van die ministeriële verteenwoordiger en op nasionale terrein het sy verskeie dekades in Die Gesinstiging van SA gedien en was sy stigterslid en lid van Die Gesinstigtingtrust - ook op hierdie vlak het sy haar merk gemaak en tot so 'n mate 'n leidende rol gespeel dat sy met Die Gesinstiging Ere-toekenning vereer is vir die bydrae wat sy plaaslik, provinsiaal en nasionaal tot welsynsdienste in SA gemaak het.

7. Bejaardes was haar passie maar kinders en jong mense 'n groot liefde vandaar dan ook die feit dat sy baie jare in die Hoërskool Gimnasium se bestuursliggaam asook in die raad van die destydse Bolandse Opleidingskollege vir Onderwysers gedien het

8. Sy was baie lief vir haar land, sy geskiedenis, mooi musiek, kuns en kultuur en veral, vir ons taal en het haar betrokkenheid by die Die Stigting vir Afrikaans baie geniet.

9. Ek is dankbaar dat sy in 2005 met 'n FAK-toekenning vereer is vir haar bydraes op verskeie terreine.

Ek sal Ina Rens egter die beste onthou as lid van die ACVV-Hoofbestuur en die verskillende rolle wat sy in hierdie hoedanigheid met onderskeiding vervul het, te wete as vise-voorsitter, voorsitter, voorsitter van die Finanskomitee, aktiewe lid van die professionele komitee waar daar op maatskaplike werk-dienste van die ACVV gefokus is.

Hier wil ek graag hulde bring aan Hazel - mev Rens het haar vertrou met dit waaroor sy die mees passievolle gevoel het, te wete Marié se versorging en lewenskwaliteit en Hazel het haar hande hoog gehou. Dankie Hazel vir elke keer wat mev Rens gebel het om seker te maak dat dit wel is met Marié en jy haar met grasie gerusgestel het en sy kon voortgaan met haar taak by die ACVV-Hoofbestuur.

My kosbaarste herinneringe sal egter altyd wees aan Ina Rens die mens - al haar prestasies en sukses vervaag wanneer haar kwaliteite as mens in herinnering geroep word:

a) Sy het die vermoë gehad om almal rondom haar te laat vlieg - doodgewoon omdat sy altyd haar beste gegee het en onwrikbaar geleef het in die wete dat andere dit ook sal doen. Niemand wou haar teleurstel nie!

b) Omdat sy in 'n span kon saamwerk sonder om te konformeer en sonder om haar unieke benadering aan te pas of haar individualiteit in te boet, het sy elke mens met wie sy in aanraking gekom het en met wie ek haar sien saamwerk het, toegelaat om sonder skroom sy of haar eie stempel af te druk en sodoende het sy die allerbeste uit almal gekry, ongeag of dit personeel, vrywilligers, kollegas, meerderes of minderes was.

c) Sy het mense op so 'n wyse vertrou dat sy hulle nie blootgestel het nie en sou iets verkeerd loop, kon daar altyd op haar lojaliteit staatgemaak word. Ek en sy het menige steil en moeilike heuwel uitgeklim en ek sou niemand anders daar saam met my wou gehad het nie.

d) Sy was in wese 'n entrepreneur en het geen idee ooit afgeskiet nie - alhoewel sy nie net haar tyd nie maar ons almal ligjare vooruit was, het sy beslis geleef met die opwindende wete dat iemand anders dalk net 'n idee mag hê wat beter as haar eie is en daarom nie sommer gestonk moet word nie.

e) Sy was geliefd en bewonder - van die boemelaar wat sy oor jare onder haar vleuels gehad het en wat geglo het dat sy werklik op water loop tot ministers met wie sy in baie taai onderhandelinge was en waar sy gewoonlik haar sin gekry het - wat laasgenoemde aanbetref, het ek soms gewonder waarom hulle nog probeer en nie sommer by voorbaat handdoek ingooi nie, want een of ander tyd moes hulle tog leer dat sy goed voorbereid is en nie nee vir 'n antwoord gaan aanvaar nie. Moontlik omdat sy haar sukses in sulke onderhandelinge so stylvol hanteer het dat die ander partye nie omgegee het nie en omdat hulle die interaksie met haar so geniet het.

f) Onder die fluweelhandskoen was 'n beginselvaste vrou van staal wat haarself kon handhaaf en ek het by vele nasionale forums gesien dat sy die enigste vrywilliger was wat 'n opinie sou uitspreek en of standpunt inneem en so die loop van 'n hele vergadering verander, en ja, altyd ten goede.

g) As die telefoon 8:00 soggens gelui het en mev Rens vra of ek al die Die Burger gelees het, kon ek maar weet niks het haar aandag ontglip nie - die berig op die finansiële bladsye bring sy in verband met die artikel wat sy verlede jaar in die Time Magazine gelees het en haar eie filosofiese gedagtes oor armoede en die Kibbutz-stelsel waaroor sy verlede jaar met my gesels het toe ons die jaarverslag bespreek het.

h) Sy het 'n wonderlike sin vir humor gehad en kon heerlik ontspan en lekker gesels oor haar liefde vir Suidwes, nostalgies raak oor die rooi sandduine, vertel van die pragtige boepmaag seuntjie wat sy op 'n plaas daar gesien het, passievol reflekteer oor haar besoek aan die Vrouemonument in Bloemfontein, stories vertel oor die formidable vroue-baanbrekers wat sy persoonlik geken het, mense soos MER, Anna Rothman, mev Anna Geyer, prof Erika Theron, dr Hendrien Lambrechts.

i) Sy was dié stylvolste vrou en sy het hierdie styl in die ACVV ingedra - 'n tehuis vir bejaardes moes nie net funksioneel wees nie maar daar is aandag gegee aan elke detail van die eetgerei, breekware, matte, gordyne, meubels - goeie smaak en kwaliteit was ononderhandelbaar.

j) Haar gesin en vriende was vir haar baie belangrik - sy was die trotse ma van drie kinders en het nie weggeskram van die ekstra verantwoordelikheid wat 'n dogter met spesiale behoeftes verteenwoordig het nie.

k) Dr Rens, sy praktyk en die mediese wêreld waarin hy beweeg het, was vir haar bekend en sy het die dinamika daarvan verstaan en dit geniet.

l) Die meeste van ons sou nie vir veel meer kans gesien het as om die vrou te wees van 'n man met 'n besige mediese praktyk en die ma van gesonde kinders nie en sou dit as 'n moeilike taak beskou het indien 'n kind met spesiale behoeftes bygekom het. 'n Besonder mens sou onder hierdie omstandighede dalk tot 'n mate by haar onmiddellike gemeenskap betrokke geraak het. 'n Uitsonderlike mens sou onder hierdie omstandighede moontlik die tyd en energie kon vind om op 'n breër vlak en oor die langtermyn by 'n verskeidenheid inisiatiewe en dienste in haar plaaslike gemeenskap betrokke te raak.

m) Vir 60 jaar maak 'n Ina Rens onder hierdie omstandighede vir 'n reuse verskil in haar plaaslike gemeenskap en laat lewende monumente na, dien met onderskeiding op nasionale vlak en doen dit op so 'n wyse dat sy bewonder word vir haar diensbaarheid, onbaatsugtigheid, intellek van formaat, adellikheid in alles wat sy dink en doen, leierskap wat mense rondom haar tot groot hoogtes aanvuur.

Ina Rens het voluit geleef en ek kan net dankbaar wees vir die voorreg om haar te ken - sy sal beslis onthou word, sy sal gemis word en haar lewende monumente sal voortbestaan.

Ek glo dat dit 'n heuglike dag in die Paarl sal wees wanneer nog een van haar visies gestalte kry en Stoney Broke herdoop word na Huis Ina Rens en begin funksioneer as versorgingseenheid vir persone met dementia.

Aan Albrecht en Nicolaas en hul geliefdes, my opregte simpatie - as ons haar gaan mis en oor haar treur is julle verlies des te groter. Dankie dat julle haar vir dekades met ons gedeel het. Ek eer julle vir die deernis en toewyding waarmee julle steeds in die laaste fase van haar lewe na haar omgesien het - julle optrede is in werklikheid die grootste huldeblyk aan ons geliefde mev Ina Rens van die Paarl.

Mara Koornhof
Februarie 2011

ECONOMIC DISCUSSIONS

For the first time ever, Alzheimer's disease was a topic of discussion at the World Economic Forum. Dementia is a worldwide concern with an estimated 35 million people currently living with some form of dementia. These numbers are expected to increase drastically in the years to come. According to the World Alzheimer's Report, by the year 2030 the number of people living with dementia worldwide will reach 65.7 million and by the 2050, the number will reach an estimated 115.4 million. The meeting at the World Economic Forum marked an important step in preparing financially for the future. Dr. Robert N. Butler moderator of the Davos panel and CEO and President of the International Longevity Center recognizes the importance of the forum discussion. As he explains, "today's meeting of government, corporate and civil society representatives, is an important step in driving urgency to act". It is estimate that the annual cost of dementia worldwide is US$315 billion. Development of frameworks for facing the rise of Alzheimer's disease was led by Australia, England, South Korea, Norway, Canada, France, Germany, Japan and Sweden.